Dis tyd dat die regering beter toesig hou oor die hele departement van indiensneming en arbeid, sê die organisasie Business for South Africa (B4SA).
B4SA het op die uitreiking Woensdag van die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die magdom tekortkominge met die uitbetaling van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Covid-19-Ters) gereageer.
Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het die drie topbestuurders en nog ’n werknemer kort ná die uitreiking van die verdoemende verslag geskors, hangende ’n ondersoek na die probleme. Hulle is Tebogo Maruping, kommissaris, Fezeka Puzi, finansiële hoof, Judith Kumbi, bedryfshoof, en Maria Ramoshaba, hoof van voorsieningskettingbestuur.