Die termyn van ’n bekende aktivis teen kernkrag as ’n nie-uitvoerende raadslid van die nasionale kernreguleerder (NKR) blyk van korte duur te wees.
Peter Becker van Koeberg Alert Alliance, ’n gemeenskapsorganisasie wat teen kernkrag gekant is en wat bedrywighede by die Koeberg-kernkragstasie by Melkbosstrand dophou, is Maandag toegang geweier tot ’n vergadering van die NKR-raad.
Dit was op dié vergadering waarop die NKR-raad vermoedelik amptelik toestemming aan Eskom verleen het om voort te gaan met die vervanging van drie stoomketels by Koeberg.