Die nasionale tesourie het in ’n verrassende besluit wel Eskom se versoek vir ’n verslapping van die verkrygingsregulasies toegestaan.
Die kragverskaffer het Vrydag in ’n verklaring gesê die tesourie het besluit om sekere aspekte van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) in ’n kennisgewing vir hom te verslap.
Dit beteken dat Eskom nou vinniger verkrygings van broodnodige onderdele en masjinerie vir sy beleërde kragstasies sal kan bekom, en, ook belangrik, dat hy met die oorspronklike vervaardigers van die toerusting sal kan sake doen om te verseker dat veral instandhoudingswerk en herstelwerk aan die nodige gehaltevereistes voldoen.