Agter die skerms by Eskom is ’n groep gesoute ingenieurs en topakademici van die Universiteit van Pretoria (UP) besig om baanbrekende tegnologie te vervolmaak wat kragstasies kan begin regruk.
Dr. Dawie Diamond, post-doktorale navorser aan die UP, is lid van ’n span wat nuwe tegnologie ontwikkel in samewerking met Eskom se ingenieurs ten einde die nutsmaatskappy se droewige prestasie met sy steenkoolkragstasies minstens op een manier te probeer verbeter.
In wat Diamond noem “die eerste werkende prototipe van dié tipe tegnologie in die wêreld is”, is daar groot opgewondenheid onder nie net Eskom se ouer garde, leierskap en bestuur nie, maar ook onder die navorsers en ingenieurs van die land se voorste universiteite oor wat dié nuwe tegnologie vir Eskom, die land, en dalk selfs die wêreld, kan beteken.