Dis nie waar dat hy niks doen om die 4 000 MW tot 6 000 MW se ekstra kragopwekking gebou te kry wat Eskom soek nie.
So het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, Donderdag in sy begrotingsposdebat gesê.
Volgens hom is daar meer as 13 000 MW se kragprojekte wat tans in beplanning is onder sy departement se toesig. Dit sluit 1 500 MW se steenkoolkrag, 3 000 MW se gaskragstasies, 2 600 MW se hernubare energie onder ’n sewende groenkragbodronde, en 513 MW se kragberging in waarvoor daar in die lopende boekjaar ’n versoek om voorstelle uitgereik sal word.