Hou dadelik op soek na nuwe olie- en gasbronne, is die radikale boodskap in die Internasionale Energieagentskap (IEA) se jongste verslag.
Om klimaatsverandering te keer en te sorg dat die wêreld teen 2050 niks meer kweekhuisgasse vrystel as wat hy absorbeer nie, moet enige nuwe beleggings in die ontwikkeling van nuwe fossielbrandstofprojekte onmiddellik van vandag af gestaak word, is die IEA se aanbeveling.
Sy verslag oor die padkaart na koolstofneutraliteit teen 2050 is vandeesweek met skok en verbasing in die oliebedryf ontvang.