Die veelpartyregering van die Johannesburg-metro het Maandag met ’n ambisieuse plan begin om onafhanklik van Eskom te raak.
“Ons stad se ekonomie verloor R60 miljard tot R80 miljard per jaar weens beurtkrag. Dit kan nie só voortgaan nie,” het Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en infrastruktuurdienste, Maandag op die eerste dag van die eerste Joburg Energy Indaba gesê.
Dr. Mpho Phalatse, uitvoerende burgemeester, het vroeër in haar stadsrede beloof om die indaba te hou sodat die stad se nuwe regering oplossings kan vind vir die kragkrisis wat Johannesburg verlam.