Die gemiddelde motorfinansieringsooreenkoms in Suid-Afrika is vir R270 000 tot R360 000, maar die elektriese voertuie wat in die plaaslike mark beskikbaar is, kos gemiddeld R1,5 miljoen.
Dít wys bekostigbaarheid is ’n groot rede waarom so min Suid-Afrikaners al elektriese voertuie (EV’s) aangeskaf het, sê kenners in die voertuigbedryf.
Sedert 2011 is net minder as 5 000 elektriese, inprop-hibriede en tradisionele hibriede nuwe voertuie verkoop uit altesame 5,7 miljoen nuwevoertuigverkope in Suid-Afrika, aldus die departement van handel, nywerheid en mededinging se groenskrif oor die bevordering van elektriese voertuie in die land.