Die uiteindelike verhoging in kragtariewe waarvoor Eskom vra kan selfs so hoog as 54% wees afhangend van hofbeslissings, het die Mineraleraad van Suid-Afrika Vrydag gewaarsku.
Eskom vra by die nasionale energiereguleerder (Nersa) vir ’n tariefverhoging van 20,5% vir die komende boekjaar, maar as hofuitsprake Nersa verplig om terugwerkende inkomste-aansoeke van Eskom toe te laat en die reddingsboei van die staat ook as inkomste vir Eskom te beskou, kan dit R74 miljard se ekstra inkomste aan Eskom beteken, wat hy dan toegelaat word om via kragtariewe van verbruikers te verhaal. Die R74 miljard kan bestaan uit terugwerkende toegelate inkomste van meer as R28 miljard en die staat se reddingsboei aan Eskom van R46 miljard.
Nersa het aanvanklik aangevoer die reddingsboei moenie toegelaat word as toelaatbare inkomste aan Eskom nie, want dis veronderstel om net gebruik te word om sy skuldverpligtinge na te kom. Maar Eskom het Nersa hieroor hof toe gesleep en die appèlhof moet nog uitsluitsel daaroor gee.