Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, se voorstel dat Suid-Afrika goedkoop Russiese olie invoer om die brandstofpryskrisis hier te versag is “doelbewus misleidend” en ’n “rookskerm”.
Kevin Mileham, DA-LP, het Vrydag aan Netwerk24 gesê Mantashe se uitlating is op die beste “waansinnig”, maar meer waarskynlik ’n doelbewuste “dwaalspoor” om Suid-Afrikaners vals hoop te gee dat die regering gaan ingryp om die brandstofpryskrisis op te los.
Die feit van die saak is dat Russiese olie, al is dit goedkoper as die Brent-ruolie wat tans op die ope mark beskikbaar is, nie ’n verskil sal maak aan Suid-Afrikaanse brandstofpryse nie. Dit is omdat Suid-Afrika se raffinaderye die een ná die ander gesluit het en aan flarde gaan, wat die land se vermoë om ruolie te raffineer heeltemal gekniehalter het.