Eise vir lewensversekering is nou vir die eerste keer weer waar dit was voordat groot getalle Covid-19-sterftes die land geruk het.
In Augustus is 617 eise vir lewensversekering by die land se vyf grootste lewensversekeraars ingedien. Dis die laagste sedert April 2020, toe 540 eise ingedien is.
Volgens die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika was eise vóór die pandemie tussen 600 en 700 per maand. Dit het van Junie 2020 saam met Covid-19-sterftes skerp begin styg en het twee keer meer as 2 700 per maand beloop, in Januarie 2021 en weer in Julie 2021.