Belastingbetalers kners behoorlik op hul tande van frustrasie oor hoe traag Jan Taks vanjaar met die belastingterugbetalings is.
Ferdinand Cloete, direkteur van die ouditfirma Nolands in Kaapstad, meen die verifikasie en oudits deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is beduidend aan die toeneem. Hy meen die terugbetalings word in die verifikasieprosesse vertraag.
Die meer verifikasies en oudits het al voorheen begin, maar dit neem toe, volgens hom. “Ons kry weekliks kennisgewings van die SAID oor verifikasies of oudits.”