Beleggers wat net koers gehou het te midde van die uiterste onsekerheid van die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie, is ryklik beloon.
Ondanks verskeie gevalle van irrasionaliteit en domheid in die markte, het die beleggingsopbrengste van ’n tipiese Suid-Afrikaanse gebalanseerde fonds sedert die begin van die pandemie gestyg. Dit was geensins ooglopend te midde van die krisistye in die markte nie, maar met terugskouing het dit vasberadenheid geverg, sê Izak Odendaal, beleggingstrateeg by Old Mutual Wealth.
Tussen 2017 en 2020 het beleggers in ’n tradisionele gebalanseerde fonds helaas maar treurig gevaar, swakker as kontant, en selfs as daar ook vyfjaartydperke teruggekyk word. Díé beleggers het vir relatief lang tye ekstra wisselvalligheid ervaar sonder enige beloning, en ’n mens kan hul frustrasie begryp, sê Odendaal.