Suid-Afrika het ’n hoë vraag na woonwapark- en kampeerterreinbestuurders, maar skynbaar nie na robotika-spesialiste, wetenskaponderwysers, wiskundiges of mikrobioloë nie.
Dít is as jy die konseplys van die departement van hoër onderwys en opleiding glo van beroepe wat hoog in aanvraag is in Suid-Afrika. Die lys word opgestel om universiteite en opleidingsinstansies leiding te gee oor tekorte aan vaardighede. Die konseplys is in Augustus uitgereik.
Dit word boonop deels gebruik as basis vir die departement van buitelandse sake se lys van kritieke vaardighede. Buitelanders met dié kritieke vaardighede kwalifiseer vir werkvisums in die visumkategorie vir kritieke vaardighede wat kragtens die Immigrasiewet vinnig verwerk word.