Byna die helfte van Suid-Afrika se geregistreerde verpleërs gaan binne die volgende 15 jaar aftree, wat beteken die kritieke tekort aan verpleërs gaan oor die volgende paar jaar net vererger. Daarby is daar ’n enorme krisis met die akkreditering van opleidingsentrums en belangstelling in dié belangrike beroep is aan die taan.
Mediclinic het aan Netwerk24 gesê hy het baie vakatures vir professionele verpleërs in die maatskappy wat kliniese leierskap in gespesialiseerde eenhede en algemene sale kan bied.
“Die beskikbaarheid van voldoende verpleegpersoneel is ’n uitdaging in Suid-Afrika,” sê die maatskappy.