Die deposito’s wat huishoudings by banke het, het in die eerste kwartaal van vanjaar vir die eerste keer sedert 2011 gedaal.
Die jongste kwartaalverslag van die Reserwebank toon die deposito’s van huishoudings by banke het met R2 miljard in die eerste kwartaal gedaal, vergeleke met ’n toename van R12,6 miljard in die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar.
Die groei in die deposito’s wat huishoudings by banke hou, het vroeg in 2022 begin afplat omdat verbruik toegeneem het danksy die verdere verslapping van die inperkings vir die pandemie, lui die verslag.