Die groot administrateur van mediese skemas, Discovery Health, sê die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds (NGV) skep groot onsekerheid oor die toekomstige rol van mediese fondse wanneer die nasionale fonds geskep is.
Discovery Health, nog ’n administrateur, Medscheme, asook die groot mediese fondse Bonitas en Polmed het Dinsdag aan die openbare sittings oor die NGV in die parlement deelgeneem.
Discovery het na ander lande se voorbeelde gaan kyk. Geen land met ’n nasionale gesondheidsversekeringstelsel beperk die dekking wat versekeraars in die private sektor vir mediese sorg mag gee nie, sê prof. Roseanne Harris, hoof van gesondheidsbeleid van Discovery Health.