Kleiner patologielaboratoriums is baie ontevrede dat die Mededingingskommissie hulle nie gekonsulteer het oor die maksimum prys vir Covid-19-toetse wat met die drie grootste laboratoriums ooreengekom is nie.
Die kommissie het ná ’n ondersoek oor die pryse van die polimerasekettingreaksietoetse (PCR-toetse) ingegryp en ’n ooreenkoms met die drie groot praktyke van patoloë, Ampath, Lancet en PathCare, aangegaan vir ’n maksimum prys van R500 per toets (BTW ingesluit).
Dit het gevolg nadat hul pryse langer as ’n jaar op R850 vasgesteek het en ’n amptelike klagte van die Raad op Mediese Skemas (RMS) daaroor ontvang is.