Die vakbond Solidariteit sê hy sal voortgaan om die regering en die departement van gesondheid voor die hof te daag indien die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) finaal aanvaar word.
Die wetsontwerp is Woensdag deur die portefeuljekomitee oor gesondheid aanvaar en gaan nou na die Nasionale Vergadering vir debat en goedkeuring.
“Die aanvaarding van die NGV word sterk deur Solidariteit veroordeel. In aanloop tot volgende jaar se verkiesing, en ten einde goedkoop stemme te werf, dring die ANC-regering daarop aan om hierdie wet deur te druk terwyl hulle ten volle daarvan bewus is dat hul eie stelsels dit nie kan ondersteun nie.