Ek wil vandag uitbrei op hierdie stelling ná die terugvoering wat ek van lesers gekry het op my rubriek hier verlede Sondag onder die opskrif “Beperk taks met UA”. In die slotparagrawe van daardie rubriek het ek net kortliks geraak aan van die ander voordele van ’n UA.
Om mee te begin, net ’n uitgangspunt oor beleggings wat ek oor die baie jare wat ek hierdie rubriek skryf meermale aangeroer het: Moenie dat die belastingstert die beleggingshond swaai nie. Maar synde op die onderwerp, kom ons kyk bietjie breër.
Laat ek net eers twee irritasies uit die weg ruim. Elke nou en dan is daar iemand wat my probeer “reghelp” deur te verwys na regulasie 28 van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1965) wat beperkings plaas op die beleggingskeuses van aftreegeld, of dit ’n rede is om nié in ’n UA te belê nie. Die maksimum blootstelling wat in die fonds toegelaat word, is 75% in aandele, 25% in eiendom, 30% in internasionale bates Afrika uitgesluit en 40% in internasionale bates Afrika ingesluit.