Dis Spaarmaand en ons word toegegooi onder “spaarwenke”. Ongelukkig is baie daarvan net produksmousery. Wees dus maar versigtig.
Laat ek sommer met die geld-deur in die spaar-huis val. Kry vir jou eers ’n kundige finansiële beplanner wat holisties na jou geldsake kyk. Hoe jy spaar, moet sin maak binne die raamwerk van jou finansiële behoeftes. Die nóú is belangrik, maar die toekoms is belangriker.
As jy genader word met ’n spaar- of dan beleggingsaanbod (gewoonlik met ’n belofte van opbrengste wat alles en almal klop), kan jy seker wees dis ’n smous wat meer in sy eie inkomste belangstel as in jou finansiële gemoedsrus. En as die “raad” boonop “gratis” is, loop ’n wye draai. Kom ons kyk na ’n praktiese voorbeeld na aanleiding van ’n leser se navraag.