Suid-Afrikaners van alle inkomstegroepe is besig om in skuld te verdrink, met navrae oor skuldberading wat nou 32% méér is as ’n jaar gelede.
Dis die bevinding van die skuldindeks vir die eerste kwartaal van 2022 wat die skuldberadingsmaatskappy DebtBusters uitgereik het.
Die einde van banke se betaalvakansies wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is, die stygende rentekoers en hoë inflasiekoers, salarisse wat nie met inflasie tred hou nie en bloot die feit dat hulle nie nog krediet kan bekom nie, bring mee dat mense gouer om skuldberading moet aansoek doen.