Boere wat vrugte aan die inmaakfabriek in Ashton lewer wat op die punt staan om te sluit, vra nou dat die regering ingryp om vir hulle tyd te wen.
“Dit is nie vir ons ’n koue finansiële besluit nie. Ons voel sterk oor die fabriek se nalatenskap en in die huidige ekonomiese omstandighede is dit ondenkbaar om die fabriek te sluit,” sê Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV).
Hulle versoek dat Tiger Brands sy besluit om die fabriek te sluit – iets waaroor daar al twee jaar onderhandel word – eers uitstel sodat daar onder meer ’n kommissie aangestel kan word wat die sosio-ekonomiese invloed van die sluiting kan bepaal en ook voorstelle en oplossings ondersoek.