Ná ’n droogte van ses jaar dreig Covid-19 om die volstruisboerderye van Oudtshoorn nek om te draai.
Dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), het by ’n bekendstellingsgeleentheid van volstruisprodukte in Pretoria gesê benewens die vleis, vere en velle van volstruise, maak die volstruisboere staat op inkomste uit toerisme. “Omtrent elke plaas het ’n gastehuis.”
Niekie Vermaak, verkoops-en-bemarkingsbestuurder van Cape Karoo International se leerlooiery in Oudtshoorn, het aan Rapport gesê boere kon vir vier of vyf maande nie leer uitvoer nie omdat oorsese leerfabrieke gesluit was. Toe die fabrieke oopmaak, was daar nie vlugte vir die uitvoer nie.