Die uitvoer van byna ’n miljoen ton Suid-Afrikaanse lemoene na Europa is in die gedrang omdat die Europese Unie (EU) regulasies oorweeg wat die plaaslike sitrusbedryf as “buitensporig en onuitvoerbaar” beskryf.
“As lidlande daartoe instem, sal die nuwe regulasies ’n vernietigende impak op Suid-Afrika se lemoenuitvoer na die streek hê. Dit kan tot groot gapings in die verskaffingskettings en hoër pryse vir Europese verbruikers lei – dit op ’n tydstip wat die streek weens die voortslepende Oekraïne-Rusland-konflik ’n werklike risiko vir voedseltekorte loop,” sê Deon Joubert, spesiale gesant vir marktoegang en EU-sake vir die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika.
Suid-Afrika voer jaarliks sowat 800 000 ton lemoene na die EU uit. Meer as 140 000 mense werk in die sitrusbedryf en baie se werk kan ook in die gedrang kom, sê Joubert.