Familieboerdery geskoei op rotsvaste waardes en respek

akkreditasie

Johannes Fourie, van die Lofdal Fourie Boerdery in die Noord-Kaap, is vanjaar die ontvanger van die sagtevrugtebedryf se gesogte O.S.H. Reinecke-bedryfsleierprys.

Hy bedryf die boerdery saam met sy vrou, Marietjie, hul seun Wilco en sy vrou, Almari, dogter Marike van der Merwe en haar man, Schalk, asook seun Johan en sy vrou Lentelie.

Samantha van den Berg het met hom gesels.
Eendrag maak mag: Wilco Fourie en sy suster, Marike van der Merwe, saam met hul pa, Johannes Fourie, en Willem Ehlers, hoofbestuurder: Sanddraai-plase. Foto’s: BRAND REPUBLIC (GENEEM VIR LANDBOUWEEKLIKS OP VIA)

Mense is die spilpunt waarom die Lofdal Fourie-boerdery buite Groblershoop in die Noord-Kaap draai – van die Fourie-gesin en hul eggenote wat die onderneming van dag tot dag bedryf, tot die werkerskorps wat die aarde daar bewerk.

Die rosyntjiebedryf is arbeidsintensief en daarom is dit belangrik om die welstand en vooruitgang te verseker van die mense wat die boerdery uiteindelik moontlik maak, aldus die ontvanger van die sagtevrugtebedryf se O.S.H. Reinecke-bedryfsleierprys vir 2021.

Fourie self het sy loopbaan as boer in 1973 begin. Ondanks die feit dat hy op ’n veeplaas grootgeword het, het hy met min kennis op ’n klein stukkie besproeiingsgrond begin boer. Hy het aanvanklik met ’n wisselboustelsel geboer, maar vinnig besef dat permanente gewasse beter winsmarges het – en só het die wingerdvertakking begin wat vir jare die ruggraat van die Lofdal Fourie-boerdery sou uitmaak.

Fourie het oor die jare stelselmatig meer grond aangekoop, waarop hy aanvanklik wyndruiwe, droogdruiwe en lusern verbou het. Die hoofvertakkings is droogdruiwe, pekanneute en vee. Die veekomponent bestaan uit ongeveer 2 000 Meatmaster-skape, 600 beeste en ’n paar bokke.

Daarbenewens het Fourie ook in 2002 die eerste produsent in sy streek geword wat ’n volledige swart ekonomiese bemagtigingsplaas, Sanddraai Arbeidsgenot, begin het. Dié plaas produseer droogdruiwe, pekanneute en wyndruiwe. Die werkers besit 51% van die aandele en die Fourie-familie 49% daarvan.

Boerdery
Johannes Fourie van die Lofdal Fourie-boerdery boer met onder meer droogdruiwe, pekanneute en vee op onderskeidelik die plase Sanddraai en Opwag. Foto: brand republic (geneem vir landbouweekliks op via)

Hiermee meer oor Fourie en sy boerdery:

1. Op watter pilare is die Lofdal Fourie-boerdery staangemaak?

Die eerste pilaar is om ons afhanklikheid van ons Skepper te erken, verstaan en uit te voer. Die tweede een is om as ’n familie van bloed en almal wat deel raak, elkeen só te betrek dat ons met goeie waardes suksesvol kan produseer. Derdens om die sterk punte van elke bestuurder te ontdek en hom of haar aan te wend daarvolgens.

Die vierde pilaar is respek: Respek vir ons Skepper, mense, plante en diere asook plaastoerusting.

2. Jy het al op meer as een geleentheid gesê: ‘Ons boer met mense’. Waarom sê jy so en waarom is dit só belangrik?

Mense is die kroon van die skepping – die mens het ’n onsterflike siel met ewigheidswaarde, daarom is die mens die heel belangrikste in die boerdery.

Die rosyntjiebedryf is redelik arbeidsintensief, en daarom is mense belangrik in die bedryf. Dit is ook van kardinale belang om mense te bestuur om produktiwiteit te optimaliseer.

Daarbenewens is Suid-Afrika ook ’n land met ’n hoë werkloosheidsyfer en daarom is ’n bedryf wat arbeid nodig het belangrik in ons land. Deur opleiding in mense te belê maak ook van die samelewing ’n beter plek.

As al die bogenoemde in ag geneem word, is dit dus ’n opdrag om die fokus in ’n boerdery eerstens op mense te plaas.

3. Wat ná al die jare in landbou laat jou nog soggens uit die bed opstaan met hoop en wat bekommer jou?

Dit gee my hoop om te sien hoe mense groei en ontwikkel, en om ’n blok wingerd met passie te plant en te sien hoe dit ontwikkel en produseer.

Dit gee my hoop om te sien hoe skape en beeste groei en vermeerder, en om vir mense werk te verskaf en ’n verskil te maak in hul lewens. Dit gee my ook hoop om gehalterosyntjies te produseer en mark toe te stuur, en om kos vir mense te produseer.

Wat my bekommer is die feit dat mense se regte belangriker as hul verantwoordelikheid word.

Daar word te veel beloftes gemaak deur mense wat nie deel is van welvaartskepping nie, en dus nooit kan realiseer nie.

Die Lofdal Fourie-boerdery se goue sultanas.

4. Hoe het die rosyntjiebedryf op eie bodem oor die laaste bv. tien jaar verander en hoe meet ons produk teen dié van die buitelandse markte?

Ons rosynbedryf se produksie het verdubbel oor die afgelope tien jaar. Die vryemark met meer as sewe verpakkers het veroorsaak dat daar ook sogenaamde “cowboys” na vore gekom het, wat ons gehalte oorsee ondermyn het.

Ons wend ’n groot poging aan om saam te werk en ons gehalte weer die beste te maak en ook die persepsie in die buiteland te herstel deur, onder meer, ons drooggeriewe op te gradeer met die nodige oudits; ons produksieprosesse te verbeter en met beter tegnologie in ons fabrieke gehalte uit te voer; en ook laastens met ons promosieprogramme nasionaal en internasionaal.

5. Watter uitdagings staar die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf nog in die gesig en hoe kan dit oorkom word? Hoe kan ons die bedryf op eie bodem uitbou?

Ons het ’n boek saamgestel van die bedryf oor die afgelope 100 jaar, getiteld Oorwinning deur volharding.

Die uitdaging vir die volgende paar dekades sal wees oorwinning deur ordelike samewerking.

As ons in die gesofistikeerde markte in die wêreld wil bemark, moet ons weer ’n trots skep om Raisins SA se handelsmerk met trots weer op ons produk te kan plaas.

Produsente se hooffokus moet produksie wees, terwyl verpakkers daarop moet fokus om te kan kompeteer met die res van die wêreld deur goeie gehalte uit te voer én ook met goeie bemarking.

Ons bedryfsliggaam Raisins SA se fokus is om na albei partye om te sien om die regte standaarde daar te stel en tussen die partye te koördineer, rakende byvoorbeeld die tegniese aspekte van plantmateriaal, die oorsien van gradering, en om hulp te verleen met die gesamentlike reklame en bemarkingstrategie.

Annaline van Wyk pluk die wyndruiwe wat ook deur Lofdal geproduseer word.

6. Hoe toeganklik is ons rosyntjiebedryf vir nuwe toetreders en jong boere? Watter advies sou jy vir dié boere gee?

Ons bestee meer as 20% van ons fondse by Raisins SA aan opkomende boere. Daar word fondse beding om in samewerking met verskillende landbou-organisasies langs die Oranje-, sowel as die Olifantsrivier met nuwe toetreders tot die bedryf te help. Daar is al ’n hele paar suksesverhale soos die boerderye Eksteenskuil, Blucuso-trust en die boer Dirk Louw wat almal op hul eie voete staan.

Ek sou sê dat jong boere by hul naaste landbouvereniging moet inskakel, boeredae en inligtingsdae asook studiegroepe moet bywoon indien dit in hul omgewing bestaan.

Hulle moet rondgaan om by ander suksesvolle boere te gaan leer en kyk hoe hulle dit doen.

Simone Sell is een van Raisins SA se direkteure wat haar toespits op die ontwikkeling van nuwe toetreders. Daar is tans reeds 200 beginnerboere wat goeie rosyntjies produseer, waarvan die meeste vanuit hierdie projekte op die been gekom het.

 7. Wat is die belangrikste beginsel(s) waarvolgens jy as boer leef en werk?

Dit is vir ons die belangrikste om in harmonie as ’n eenheid saam te werk en op dié manier ook geskille op te los. Om dít te vermag is dit belangrik om in volkome afhanklikheid van ons Skepper te leef en te erken dat Hy in beheer is.

Ons gee om vir mekaar in ons boerdery, en dit geld vir alle vlakke van mense in die boerdery. Soos vroeër genoem is respek vir die Skepper, mense, diere, plante en toerusting dus ’n belangrike basis.

GEBORG: Sagtevrugtebedryf

Die bedryfsleier van die jaar ondersteun die volgende insetverskaffers:

 

  • Carpe Diem Raisins is een van die voorste verwerkers van organiese en konvensionele rosyntjies in Suid-Afrika. Ons voorsien topgehalte produkte aan ons kliënte oor die wêreld heen. 

  • Raisins SA is ‘n niewinsgewende-organisasie wat minstens 1 000 produsente se belange oor die land heen verteenwoordig. 

  • AECI Plant Health is ‘n veelsydige onderneming wat alle aspekte van die landboubedryf in Suid-Afrika aanspreek – alles met behulp van ons ervare gewasadviseurs en tegniese ondersteuningspanne. 

  • Omnia, nutriologie-wetenskap vir groei.

8. Jy boer saam met jou vrou, sowel as jou kinders en hul onderskeie eggenote. Wat beteken dit vir julle om saam as ’n gesin te kan boer en hoe maak julle dit werk?

Ons kan oor mekaar praat, maar dit is belangriker om met mekaar te praat. Daarom is kommunikasie baie belangrik. Ons hou gereeld maandvergaderings en kommunikeer ook ons weeklikse beplanning op ’n Telegram-groep met mekaar.

Kommunikasie is dus een van die belangrikste boustene om suksesvol saam te boer. Daarmee saam is dit ook belangrik dat ek vir elkeen gun dit wat ek graag wil hê.

En die belangrikste is dat ons Vader in die middel van ons boerdery staan en dat ons dit uitleef en nie net sê nie. “As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs.” – Ps. 127:1

Daarbenewens het ons ook Enneagram-ontledings laat doen en ’n lewensafrigter ingekry om dit met ons te bespreek, ten einde elkeen se sterk- en swakpunte te help bestuur, sowel as hoe die verskillende profieltipes by mekaar inpas. Ons probeer dus om elke persoon in ons onderneming volgens hul sterkpunte aan te wend.

9. Hoe belangrik dink jy is familieboerderye in Suid-Afrika?

Persoonlik dink ek familieboerderye is deel van die ruggraat om veral kennis oor te dra van een geslag na ’n ander. Die waardestelsel in familieboerderye is belangrik om mekaar te verstaan en sodoende ’n sterk eenheid te vorm. Daar kan nog baie gesê word oor familieboerderye, maar ek glo kennisoordraging en waardes is die belangrikste boustene wat familieboerderye suksesvol maak.

Druiwe word op droogbane gepak om in die son gedroog te word.

10. Jy was in 2002 die eerste produsent in jul streek om ’n swart ekonomiese bemagtigingsplaas staan te maak. Hoe staan sake op Sanddraai Arbeidsgenot vandag?

Nog voor die begin van Sanddraai Arbeidsgenot, is daar oor die jare verhoudinge gebou op die plaas tussen werkgewer en werknemers.

Dit is deel van die grondslag waarmee die onderneming begin is.

Ons kan nie ’n klomp hektare rosyntjiedruiwe boer sonder werkers wat ons hande sterker maak nie – hulle het ook ons insette nodig. Ons het mekaar dus nodig en deur vertroue oor die jare kan ons saam ’n sukses van die boerdery maak.

Sanddraai Arbeidsgenot het begin met geen permanente gewasse nie. Daar is grootliks met eie fondse permanente gewasse oor die afgelope klompie jare gevestig.

Vanjaar, nadat al die hektare vol geplant is, het die maatskappy vir die eerste keer nóg grond aangekoop vir vertikale uitbreiding waar daar oor die volgende paar jaar permanente gewasse gevestig gaan word.

Die plaas is destyds aangekoop vir R1,6 miljoen en nou, amper 20 jaar later, is die plaas vir meer as R40 miljoen gewaardeer.

Buiten die styging in waarde, is daar oor die jare bonusse en dividende aan die aandeelhouers uitbetaal – bo en behalwe hul salarisse. Die afgelope paar jaar beloop hierdie bonusse en dividende meer as R1 miljoen per jaar, en dit word tussen almal verdeel.

11. Hoe sal jy jou siening van grondhervormingsprojekte vandag opsom en wat is alles nodig om hierdie projekte suksesvol te maak?

Die winsmarges in landbou is só klein dat selfs gevestigde boerderye sukkel om deesdae die mas op te kom. Om aan mense grond te oorhandig wat nie die agtergrondkennis van boerdery het nie, maak die kanse op sukses dus baie skraal.

Soos in familieboerderye is die oordrag van kennis dus van kardinale belang in die sukses van enige boerdery en dus ook in grondhervormingsprojekte. Dit is daarom uiters belangrik dat gesamentlike ondernemings tussen suksesvolle boere en hul werkers gesluit moet word.

Die plan van Agri SA se president, Pierre Vercueil, om finansiering beskikbaar te stel waar projekte op hierdie beginsels moet plaasvind, kan ’n groot game changer in die landbousektor word.

Anders as wat mense dink, het kommersiële boere en nuwe boere mekaar geweldig nodig om ’n sukses te kan maak. Die staat het nie die kundigheid om dit oor te dra nie en nuwe toetreders het nie die fondse nie. Suksesvolle boere kan dus hier betrokke raak as die middelman tussen die staat en nuwe toetreders.

’n Jong pekanneutvrug. Dié neute is een van die hoofvertakkings op Lofdal.

12. Wat beteken die bedryfsleier-prys vir jou en hoe belangrik is bedryfsorganisasies vir boere en die bedryf in geheel?

Gedurende die tyd wat ek by die bedryfsliggaam vir rosyne betrokke is, het groot veranderinge plaasgevind – vanaf enkelkanaal-bemarking in die negentigerjare na die vryemark, sowel as die wegbeweeg van ’n sambreelorganisasie soos Hortgro en ons eie kantoor vir rosyntjies langs die Oranjerivier.

Dit het soms met stampe en stote plaasgevind, maar met genade van Bo glo ek het ons saam oor tyd die bedryf help groei tot wat dit nou is. Die afgelope tien jaar het die bedryf wat produksie aanbetref geweldig gegroei, en dit is ’n groot voorreg om deel te wees van so ’n mooi bedryf.

Dit was maar soms nie maklik om ’n tree in die donker te neem nie, en die toekenning gee eintlik maar net erkenning aan die feit dat ons darem kon help om die bedryf in die regte rigting te stuur.

Produsente moet hul fokus absoluut op produksie en sukses op plaasvlak kan hou. Dít kan slegs gebeur as daar organisasies is wat weer op hul beurt op die ander afdelings kan fokus, soos plantmateriaalontwikkeling, bemarking, promosieprogramme, skakeling met produksielande en markte oorsee. Hulle moet ook dien as die skakel tussen produsente en verpakkers en laastens die baie belangrike rol vervul as die beskermer van produkgehalte in Suid-Afrika en ook dít wat die land verlaat.

Bedryfsorganisasies moet die oë wees wat namens die produsent verder op die horison kan sien deur navorsing en skakeling met ander bedryfsorganisasies. Die organisasie moet namens produsente en die regering help met die ontwikkeling van opkomende boere.

Goue sultanas word uitgepak nadat dit berook is.

13. Waar het jou liefde vir landbou begin?

Ek was van kleins af lief vir dammetjies maak en ook vir diere. Ek het grootgeword op ’n plaas en van kleins af het ek ’n liefde gehad vir die boerdery, en het eintlik nooit eers gedink dat ek enige iets anders wil doen as dit nie.

Genadiglik was my pad vol goeie mentors in die vorme van boere rondom my, asook die mense met wie ek kon skouers skuur in die bedryfsorganisasies. Ek was bevoorreg om op ’n jong ouderdom by die SA Droëvrugtekoöperasie betrokke te raak, en oor ’n leeftyd daar met ander nuutdenkende boere in aanraking te kon kom.

14. Hoe lyk die pad vorentoe vir die Lofdal Fourie-boerdery?

Ons doelwit is om die bedryf volhoubaar oor te dra na die volgende geslag en hulle te bemagtig om dit weer oor te dra na die geslag ná hulle. Saam met dit wil ons ook die werkers help om met selfvertroue vorentoe te gaan en ’n sukses te maak.

Ons is maar nietige mense en alhoewel ons moet beplan vir môre, is dit slegs die Here wat weet hoe die toekoms lyk. Juis daarom kom ons as manne in die boerdery al vir meer as 20 jaar weekliks op Woensdagoggende voor werk bymekaar om saam lofliedere te sing en die boerdery aan die Here op te dra. Ons doen dit om te erken dat Hy in beheer is van ons boerdery en ons afhanklikheid van hom te erken.

Deur nader aan Hom te kom, bring ons juis ook nader aan mekaar.


besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 0
Pakistan 188/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.14
-1.3%
Rand - Pond
21.36
-0.0%
Rand - Euro
18.26
-0.0%
Rand - Aus dollar
11.30
-0.0%
Rand - Jen
0.14
-0.0%
Goud
1,783.48
0.0%
Silwer
22.55
0.0%
Palladium
1,816.00
0.0%
Platinum
936.31
0.0%
Brent-ruolie
69.88
+0.3%
Top-40
64,307
-0.4%
Alle aandele
70,808
-0.3%
Hulpbronne 10
66,503
-1.6%
Industriële 25
93,791
+0.1%
Finansiële 15
13,982
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos