Fokus | Namibiese tafeldruiwe bo!

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Op die foto (van links) is Andre Jacobs, tegniese direkteur by In2Fruit, Kobus Bothma, NGGA se ondervoorsitter, Lionel van Schalkwyk (beoordelaar), Petrus Hakwaashika, juniorbestuurder van die beste produksieblok, Robert Oosthuizen (beoordelaar), Trix Quixley (hoofbeoordelaar), Jeremiah Kamati, seniorbestuurder van die wenblok, en Danie Kritzinger (beoordeelaar).Foto’s: VERSKAF
Op die foto (van links) is Andre Jacobs, tegniese direkteur by In2Fruit, Kobus Bothma, NGGA se ondervoorsitter, Lionel van Schalkwyk (beoordelaar), Petrus Hakwaashika, juniorbestuurder van die beste produksieblok, Robert Oosthuizen (beoordelaar), Trix Quixley (hoofbeoordelaar), Jeremiah Kamati, seniorbestuurder van die wenblok, en Danie Kritzinger (beoordeelaar).Foto’s: VERSKAF

Die florerende Namibiese tafeldruifbedryf en sy produsente is weer die afgelope naweek behoorlik gevier tydens die Namibiese Tafeldruifprodusentevereniging (NGGA oftewel die Namibian Grape Growers Association) se jaarlikse tafeldruif-blokkompetisie in Aussenkehr.

Die Aussenkehr-vallei is ’n woestyngebied sowat 50 km vanaf Noordoewer in die suide van Namibië, op die oewer van die Oranjerivier.

Die tafeldruifbedryf hier het nagenoeg drie dekades gelede ontstaan en gaan sedertdien nog net van krag tot krag soos oesvolumes toeneem en beleggings in nuwe produksie­geriewe en ander uitbreidings gemaak word.

Die NGGA se blokkompetisie is vanjaar in sy 15de jaar, maar kon nie vir die afgelope twee jaar gehou word nie weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande beperkings. Volgens die produsentevereniging was dit vanjaar die grootste kompetisie tot nog toe, met besoekers van oor Namibië heen sowel as uit Suid-Afrika.

Agter van links is Petrus Hakwaashika en Jeremiah Kamati, van Namibia Grape Company en die bestuurders van die wenblok, Andre Jacobs, tegniese direkteur by In2Fruit, en Kobus Bothma, ondervoorsitter van die NGGA.

Volgens Kobus Bothma van Capespan Namibia, onder­voorsitter van die tafeldruif­vereniging, is die blokkompetisie ’n waardevolle instelling vir die Namibiese tafeldruifbedryf.

“Die kompetisie is baie waardevol en ’n motiveerder om die verbouingspraktyke vir tafeldruiwe gedurig te verbeter. Veral wat nuwe kultivars betref,” sê hy.

“Dit laat produsente toe om elke dag nog by mekaar te leer en daarom is dit van groot belang. Daarbenewens help dit ook om die gehalte van die Namibiese produk in internasionale markte te verbeter,” sê Bothma.

Blik op wenners

Die Namibia Grape Company (NGC), wat deur die Nasionale Jeugdiens in Namibië besit en met behulp van Capespan Namibia bestuur word, het vanjaar skoonskip gemaak en elkeen van die ses pryse in die twee kategorieë vir onderskeidelik beste produksieblok en beste jongblok verower.

’n Paneel van vyf onafhanklike bedryfskenners het die ingeskrewe wingerdblokke oor ’n paar dae volgens bepaalde kriteria geëvalueer.

Dit het na alles van die produsent se lang- tot korttermynpraktyke gekyk, sowel as die algemene voorkoms van die wingerdblok en die bemarkings­potensiaal van hierdie spesifieke druiwe.

In die kategorie vir die beste jongblok is die wenners:

  • Eerste plek: Namibia Grape Company, fase A met die kultivar Flame Seedless. Die bestuurders van hierdie blok is Jeremiah Kamati (senior) en Ludwig Dimunga (junior).
  • Tweede plek: Namibia Grape Company, fase A met die kultivar Sweet Globe. Die bestuurders van hierdie blok is Jeremiah Kamati (senior) en Thomas Sikoka (junior).
  • Derde plek: Namibia Grape Company, fase D met die kultivar Arra29. Die bestuurders van hierdie blok is Hendricks Nyambe (senior) en Ismael Mbarandongo (junior).

In die kategorie vir die beste produksieblok is die wenners:

  • Eerste plek: Namibia Grape Company, fase A met die kultivar Sweet Globe. Die bestuurders van hierdie blok is Jeremiah Kamati (senior) en Petrus Hakwaashika (junior).
  • Tweede plek: Namibia Grape Company, fase A met die kultivar Crimson. Die bestuurders van hierdie blok is Jeremiah Kamati (senior) en Thomas Sikoka (junior).
  • Derde plek: Namibia Grape Company, fase A met die kultivar Flame Seedless. Die bestuurders van hierdie blok is Jeremiah Kamati (senior) en Ludwig Dimunga (junior).

Die wenners van die beste produksieblok besoek Kalifornië in Amerika om nuwe tafeldruifkultivars te besigtig.

Oase in die woestyn

Die Namibiese tafeldruifseisoen het pas begin, met die oes wat ingesamel is en die eerste kartonne gehaltedruiwe wat vir die buitelandse markte verpak word.

Volgens Bothma het produsente in Aussenkehr in die 2021-’22-seisoen 7,5 miljoen kartonne tafeldruiwe van 4,5 kg elk bemark, en die vooruitsigte vir vanjaar is dat meer tafeldruiwe geoes gaan word. Die oes­skat­ting vir die 2022-’23-seisoen is 8,6 miljoen kartonne van dieselfde ekwivalent.

Die tafeldruiwe in Namibië word onderskeidelik na Europa, die Midde- en Verre-Ooste en Amerika uitgevoer. Namibië voer egter nog nie tafeldruiwe na China uit nie.

Aussenkehr is ’n laereënvalgebied met ’n gemiddelde reënvalsyfer van 50 mm per jaar. Die Oranjerivier word egter regdeur die jaar vir besproeiing gebruik.

Volgens Bothma is dit juis hierdie uiterse klimaattoestande wat van die Aussenkehr­vallei ’n ideale tafeldruif­verbouingsgebied maak.

“Die stabiele, warm klimaat in die somer maak hierdie vallei uiters geskik vir tafeldruiwe, sowel as die koel nagte wat weer op sy beurt tot beter kleur­vorming van die rooi en swart kultivars bydra. Produsente trek ook voordeel uit die lae risiko vir goed soos reën en ryp in die gebied.”


GEBORG: Ondersteun dié insetverskaffer 

Bergrivier Besproeiing se tegniese span bestaan uit gekwalifiseerde ingenieurs en landboukundiges met meer as 85 jaar se gesamentlike ondervinding. Ons span is trots om vir meer as 30 jaar deel te wees van die ontwikkeling van Aussenkehr.

Ons boer saam met wêreldwye kundigheid, hoogs gedetailleerde ontwerpe, gehalteprodukte en dienslewering. Bergrivier Besproeiing – jou regte vennoot vir die ontwikkeling van besproeiingskemas.Besoek ons webwerf vir meer inligting of stuur ’n e-pos na info@bergrivier.co.za. 

Die span by Bergrivier Besproeiing.
Die span by Bergrivier Besproeiing.


Daar is tans 2 287 hektaar onder tafeldruiwe in die gebied.

Volgens Bothma word die druiwe deur 11 maatskappye in onderskeidelik Aussenkehr, Noordoewer, Komsberg en Naute Dam verbou.

“Die tafeldruifbedryf hier skep ongeveer 12 000 direkte werkgeleenthede, maar die impak is veel groter, aangesien die werkers se gesinne ook daardeur gedra en ondersteun word.”

Pad vorentoe

Bothma meen die toekoms van die Namibiese tafeldruifbedryf lyk rooskleurig en as hy in die spreekwoordelike kristalbal kyk, maak dit hom opgewonde.

“Ons is baie trots om goeie gehalte vrugte hier te verbou en dit na internasionale kliënte te versend.

“Die Namibiese produk het oor tyd in die mark bekend geword vir goeie gehalte en die ontvangers is opgewonde om ons produk aan hul kliënte te bemark,” sê hy.

“Die bedryf dra ongeveer 1,3 miljard Namibiese dollar tot die land se uitvoer by en is een van die grootste werkverskaffers in die Namibiese ekonomie,” voeg hy by.

Vinnige feite!

Die Namibiese Tafeldruifprodusentevereniging (NGGA) is ’n organisasie sonder winsbejag wat die landboubelange van produsente in Namibië verteenwoordig en bevorder. Die vereniging hou gereelde vergaderings met lede, konsulteer met die regering en die landboudepartement en bestuur die vrugtevliegprojek daar.

Die vereniging bewerkstellig ook marktoegang en bied die blokkompetisie, sowel as ander tegniese aangeleenthede, studiegroepe en toere vir produsente en hul werkers aan.

Die NGGA werk ook saam met ander instellings soos die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryfsliggaam en die Namibiese Handelsforum.

besig om te laai... Regstreeks
Durban Super Giants 0
Sunrisers Eastern Cape 30/2
Rand - Dollar
17.48
-2.3%
Rand - Pond
21.07
-0.8%
Rand - Euro
18.88
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.10
-0.1%
Rand - Jen
0.13
-0.4%
Platinum
973.57
-5.0%
Palladium
1,621.00
-2.9%
Goud
1,865.26
-2.5%
Silwer
22.34
-4.8%
Brent-ruolie
82.17
-0.8%
Top-40
74,082
+0.6%
Alle aandele
80,241
+0.6%
Hulpbronne 10
75,186
+0.7%
Industriële 25
103,461
+0.8%
Finansiële 15
16,550
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos