Die Amerikaners lek hul lippe behoorlik af vir Suid-Afrikaanse lemoene. Verbruik is tussen 15% en 38% hoër as ’n jaar gelede, sê Summer Citrus from South Africa (SCSA), ’n groep Wes-Kaapse produsente wat spesifiek aan die Amerikaanse mark lewer.
Piet Smit, ’n direksielid van SCSA en sitrusprodusent en -verpakker van Citrusdal, sê vroeër die seisoen was dit duidelik verbruikers in die Noordelike Halfrond vra sitrusprodukte omdat dit ’n goeie bron van vitamien C is en mense gesonder wil eet te midde van die Covid-19-pandemie.
Hulle was egter nie seker of dieselfde ook in Amerika sou gebeur nie.