As jy nou deur ons mooi provinsie ry en jy sien die pragtige groen wingerde, vrugtebome vol rypwordende vrugte, die goudgeel graanlande en die letterlik duisende ronde en blokbale strooi, dan weet jy die jaar 2022 staan baie vinnig einde se kant toe.
Onthou julle nog? Dit was ’n jaar waarin ons nog in die eerste paar maande vasgevang was met maskers en Covid-19-regulasies. Dit was ’n jaar waarin Graan SA weer ná twee jaar ’n baie geslaagde Nampo-oesdag op Bothaville kon hou, met al die uitdagings en regulasies waaraan voldoen moes word en waar Graan SA vir Suid-Afrika kon wys dat ekspo’s wel onder dié omstandighede aangebied kon word.
Later in die jaar het die regulasies verslap en het ek die indruk gekry dat ons mense honger is vir samekoms en lekker kuier. Daarom was ons baie bevoorreg om die grootste Nampo Kaap te kon aanbied – en boonop nog ’n baie groot Swartland-skou te kon beleef (ten spyte van die bek-en-klouseer-krisis). Daar kon ons sommer net weer al ons Kaapse produsente, verskaffers en landbouvriende bymekaarkry om koppe bymekaar te sit oor die landbou met al sy uitdagings.