Enigiemand wat met hennep wil boer of dit wil inspan in vervaardiging, kan solank hul sake in orde kry, want permitte hiervoor sal teen Oktober beskikbaar wees.
Dié goeie nuus vir onder meer die landboubedryf is Donderdag deur die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, aan die Nasionale Vergadering oorgedra. Haar departement sal verantwoordelik wees om permitte vir die aanplant van hennep en die gebruik daarvan in vervaardiging uit te reik en te monitor.
Die departement van gesondheid het voorheen die kommersiële kant van daggaplant behartig, maar die mandaat om na wetgewing oor die kommersialisering van dagga te kyk, is aan Didiza se departement gegee.