Die Suid-Afrikaanse inmaakvrugtebedryf verwag dat die 2022-’23-seisoen ’n goeie produksieseisoen gaan wees.
Die Inmaakvrugteprodusentevereniging sê luidens hul jongste oesprojeksie dat hoewel die winterreënval die afgelope seisoen minder as die langtermyngemiddelde was, behoort daar voldoende bufferkapasiteit in die damme te wees om die oes deur te trek.
“Ten spyte van min sneeu gedurende die winter, was daar genoeg winterkoue om aan bome se kouebehoeftes te voldoen. Warmer weer aan die einde van die winter het bygedra tot meer uitgerekte blomperiodes. Min rypskade is gerapporteer en hoewel hael plek-plek op 16 Oktober voorgekom het, behoort dit nie die oesgrootte of die gehalte van die oes te beïnvloed nie,” sê die vereniging.