Hy was aanvanklik maar skrikkerig vir ’n vrugteboom, bieg Karolus oor sy beginjare in die landboubedryf.
Hy het voorheen eers in onder meer die groentepakstoor van die Donkerbos-landgoed naby Op-die-Berg gewerk, toe die vrugte-bestuurder weggegaan het en Karolus die geleentheid gekry het om die besproeiing van die vrugtebome oor te neem.
“Ek het regtig geen ervaring daarmee gehad nie en dit was net ’n kwessie van: ‘Nou moet jy survive.’ Ek het egter vinnig besef dat ’n vrugteboom maar baie soos ’n mens is – as jy dit alles gee wat dit nodig het tesame met ’n bietjie liefde, sal dit floreer. Só het my liefde vir die vrugteboom ontstaan.”