Die welbekende suiwelmaatskappy Parmalat staan voortaan as Lactalis Suid-Afrika bekend.
Die handelsname op winkelrakke waarmee verbruikers vertroud is, insluitende Parmalat, Melrose, Président, SteriStumpie, Bonnita, PureJoy en Aylesbury, bly egter onveranderd. Die maatskappy se hoofkantoor bly in Stellenbosch gesetel en alle fabrieke gaan soos normaalweg aan met produksie.
Die internasionale Lactalis-groep het Parmalat reeds in 2011 gekoop. Die naamsverandering, wat reeds van 1 Februarie geld, is net die laaste tree vir die integrasie van die plaaslike maatskappy met sy multinasionale eienaar.