Dis onwaar dat kospryse glad nie mag styg tydens die staat van inperking nie - regulasies wat vir die ramptoestand afgekondig is, bepaal bloot dat dit nie buitensporig mag styg nie.
Volgens Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), is die organisasie bewus van belanghebbers stroomaf in die suiwelwaardeketting se kommentaar rakende melkprysverhogings soos wat dit van toepassing is op produsente, verwerkers en kleinhandelaars gedurende die nasionale inperkingstydperk.
“Hierdie kommunikasies weerspieël nie korrekte interpretasies of weergawes van die regering se riglyne met betrekking tot prysbepaling gedurende ’n nasionale ramptydperk nie. Die kern van die bewerings van sekere verwerkers en kleinhandelaars is dat basiese voedselpryse nie toegelaat word om te styg in hierdie tydperk nie.