Die sitrusbedryf, wat midde-in ’n rekord-uitvoerseisoen is, sê uitvoer gaan voort ondanks die feit dat die Durbanse hawe verlede week gesluit was weens die onluste.
Dié sluiting, sowel as die sluiting van die N2 en N3 en die verwoesting van verspreidingsentrums, het alles ’n enorme impak op die bedryf gehad. Dit het ook ’n kettingreaksie van vertragings by hawens landwyd veroorsaak wat die uitvoer van sitrusvrugte bemoeilik.
Sitruskwekers van Limpopo en Mpumalanga voer gewoonlik vanuit Durban uit, maar baie van hulle het hul vrugte reeds na ander hawens gestuur. Uitvoer vanuit ander streke gaan voort vanuit die Coega- en Kaapstadse hawe.