Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging pleit by die regering om finansieel in te gryp om te keer dat Tongaat Hulett se wanbetaling die lewensmiddele van duisende mense bedreig.
Die vereniging het Woensdag in ’n verklaring gesê hy het vroeër die dag met Tongaat se sakeredders vergader nadat die sukkelende suikermaatskappy die spertyd misgeloop het om R401 miljoen te betaal vir 600 000 ton suikerriet wat in September deur sowat 4 300 kwekers gelewer is.
Die vereniging sê aan die einde van November sal ’n verdere R345 miljoen verskuldig wees vir die meer as 570 000 ton suikerriet wat in Oktober gelewer is.