Brandbestryders wat hulle Saterdag gehaas het na die brandende vragskip met duisende luukse motors aan boord, kon Sondag steeds nie daarin slaag om die brand te blus nie.
Die vragskip Felicity Ace van die skeepsredery MOL is naby die Asore-eilande in die Atlantiese Oseaan en was op sy roete vanaf die Emden-hawe, Duitsland, volgepak met Audi’s, Volkswagens, Bentleys, Lamborghini’s en moontlik ook Porsche-voertuie wat bestem was vir Amerikaanse kliënte.
Van die motors is elektriese voertuie met litiumbatterye, wat die brandbestryding ingewikkeld maak. Die brandbestryders kan nie op die skip klim nie, want dit is te warm. Hulle kan nie water gebruik nie, want dit kan die skip se massa laat toeneem, wat dit onstabiel kan maak, het kaptein Joao Mendes Cabecas van die hawe van Faial, een van die Asore-eilande, gesê.