Die suiwelgroep Clover is besig om sy kaasverwerkingsaanleg in Lichtenburg te sluit weens gebrekkige dienslewering deur die Ditsobotla-munisipaliteit.
Johann Vorster, Clover se uitvoerende hoof, sê hulle het ’n paar maande gelede begin om die fabriek te ontruim. Meer as 330 mense gaan hul werk verloor wanneer die aanleg – die grootste kaasfabriek in Suid-Afrika – sy deure finaal sluit.
Hy sê hulle sit al jare lank met hul hande in die hare weens die voortdurende water- en kragonderbrekings en omdat die infrastruktuur naby die aanleg nie in stand gehou word nie.