Comair, wat die laekostelugdiens Kulula.com en British Airways in Suider-Afrika bedryf, se ganse reeks vlugte is vir ’n onbepaalde tyd oor veiligheidskwessies deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO) gehok.
Die besluit deur die BLO om al Comair se vlugte te hok kom nadat die owerheid Saterdag die lugdiens aanvanklik slegs vir 24 uur gehok het in reaksie op ’n reeks probleme met vlugte van British Airways en Kulula sedert die begin van die jaar, wat kommer oor die veiligheid van Comair-vlugte meegebring het.
Die BLO sê Sondag in ’n verklaring die besluit om die vlugte nou onbepaald te hok kom nadat die owerheid vier verdere kommerwekkende kwessies gevind het in sy ondersoek na Comair se vliegtuie.