Ag, tog, nóg ’n maatskappy in sakeredding.
Jy kan vergewe word as jy in 2020 só op sakenuus gereageer het, want talle maatskappye, selfs genoteerde reuse, het hulle in die pandemiejaar tot dié stap gewend in ’n poging om krediteure van hul rug te hou terwyl hulle probeer red wat te redde is.
Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het in Mei gesê dat daar toe reeds meer as 140 maatskappye was wat in die lopende boekjaar om sakeredding aansoek gedoen het.