Die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) het misluk in sy poging om die algehele verbod op drankverkope wat van 29 Desember 2020 tot 2 Februarie 2021 vir die tweede vlaag Covid-19-infeksie gegeld het, onwettig te verklaar.
’n Interessante wending in die saak is egter dat een van die drie regters wat die saak aangehoor het, nie met die uitspraak saamstem nie.
Die meerderheidsuitspraak is ten gunste van die twee respondente, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en pres. Cyril Ramaphosa, gelewer. Daarvolgens het die minister onder meer nie ultra vires (buite haar magte) opgetree nie.