Duisende mense se werk is in gedrang net twee jaar nadat Clover se nuwe eienaars die suiwelgroep oorgeneem het met die belofte dat niemand hul werk as gevolg van die oorname sal verloor nie.
In ’n verklaring wat in antwoord op navrae uitgereik is, voer Clover aan die art. 189-konsultasieproses wat by die suiwelgroep begin is, ’n “laaste uitweg” is nadat hy ’n strategiese hersiening van sy sake gedoen het.
Die maatskappy sê weens die trae ekonomiese groei en stygende kostes verkeer sy bedrywighede alreeds jare onder druk. Die pandemie het ook die situasie vererger.