Die Duitse ambassade en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking antwoord nie op navrae oor presies wat die vaardighede is van die sowat 40 Duitse ingenieurs en ander kundiges wat op ’n spesiale vlug na Suid-Afrika gebring is nie.
Die ambassade en die departement het verlede week al aangekondig dat die kundiges in die land aangekom het om Eskom, asook Duitse ondernemings in Suid-Afrika, te help om bedrywighede te hervat namate die ekonomie te midde van die Covid-19-inperking heropen.
Die party African Transformation Movement (ATM) vra egter ernstige vrae oor of Suid-Afrika dan nie self goeie en ervare ingenieurs het nie.