Werkers by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se hoogoonde by sy aanlegte in Vanderbijlpark en Newcastle sal Donderdag as onwettige stakers beskou word as hulle sou voortgaan met ’n Numsa-staking.
Amsa het vroeër by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aansoek gedoen om die werk by hoogoonde, by sy staalproduksie en by sy kooksbatterye tot noodsaaklike dienste te verklaar.
Sy kooksbatterye verwerk steenkool tot kooks, wat in die staalproduksieproses gebruik word, met gas en ander chemiese produkte as neweprodukte.