Goeie samewerking tussen verskillende afdelings en bestuursafdelings, asook die streng navolging van wetlike finansiële voorskrifte het Magalies Water ’n skoon oudit besorg.
Dit het ook daartoe gelei dat dié grootmaatwaterverskaffer in die vorige boekjaar ook geen onreëlmatige uitgawes gehad het nie, sê Pinky Mokoto, voorsitter van Magalies Water se raad. Die maatskappy se hoofkantoor is in Rustenburg in Noordwes, maar hy bedien munisipaliteite, nywerhede en myne in Noordwes, Gauteng en Limpopo.
“Ons doelwit is om onreëlmatige en vrugtelose besteding te vermy deur doelbewus te let op die nakoming van voorskrifte in die Wet op die Bestuur van Openbare Geld,” sê Mokoto.