Die Kaapstad-hawe sal net doeltreffend funksioneer as dit in vennootskap met die private sektor bedryf word, het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, gesê.
Vos het ’n dringende vergadering met Pravin Gordhan, minister van openbare werke, aangevra om die kwessie van gedeeltelike privatisering te bespreek. Gordhan is die toesighoudende minister oor Transnet onder wie se beheer Suid-Afrika se hawens val. Belanghebbendes vra jare reeds dat die privaat sektor toegelaat moet word om in hawens te belê sodat uitgediende infrastruktuur vervang kan word en terminusse en kaaie opgeknap kan word.
Gordhan het verlede jaar aangekondig dat Transnet op soek is na private maatskappye om ongeveer R100 miljard teen 2023 te belê in opknappings in die Durbanse hawe.