Die impak van die oorlog in Oekraïne op die medisynebedryf – wat weens die koronaviruspandemie reeds kopsorge het – gee hom slapelose nagte, sê Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen.
Die pandemie het gelei tot ontwrigting in verkryging, voorraad, logistiek, personeel se produktiwiteit en verbruikersvraag. Nou gaan die Russiese inval in Oekraïne die reeds stygende inflasie weens die pandemie vererger.
Dis nie soseer die regstreekse impak wat die oorlog op Aspen het wat hom bekommer nie, het Saad Donderdag aan beleggers gesê op ’n voorlegging in Kaapstad oor die resultate vir die halfjaar tot einde Desember.