’n Hamburgerfrikkadel waarvan die maalvleis nie van ’n eens lewende dier kom nie, maar in tenks van diereselle gekweek is, kan weldra op jou bord beland.
Die idee om vleis kunsmatig te kweek, is nie meer vergesog nie. Tegnologie is al so gevorderd dat maalvleis, hetsy bees of hoender, nou reeds in spesiale tenks of bioreaktors vervaardig word. En dít sonder dat ’n lewende dier geslag is.
Gekultiveerde vleis is die term wat dié nuwe manier van vleisvervaardiging verduidelik. Soos met die tendens om kos van plantgegronde proteïenprodukte te vervaardig, is Suid-Afrika ook nie agter met hierdie nuwe manier van vleisvervaardiging nie, al staan die bedryf nog maar in sy kinderskoene.