’n Paar dae voordat goedkeuring in 2017 verkry is om ’n dividend van R15 miljard uit Suid-Afrika van Steinhoff Africa Retail (Star) aan die buitelandse moedermaatskappy van die Steinhoff-groep te verklaar, is R4,7 miljard daarvan reeds oorgeplaas.
Dit is inligting wat in ’n hofaansoek van Christiaan Tielman (Chris) Grové (65) teen onder meer die Reserwebank en die minister van finansies aan die lig kom.
Grové het die aansoek in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria gebring om ’n bewaringsbevel te laat hersien en ter syde te laat stel wat verlede jaar op sy bates beteken is.