Toyota Internasionaal is uiters bekommerd oor die plundery en geweld in KwaZulu-Natal verlede week, en is nie seker of hy kan voortgaan met sy bedrywighede in die provinsie of die land nie.
In ’n brief wat Donderdag aan die burgemeester van eThekwini geskryf is, en wat Netwerk24 onder oë gehad het, sê die motorvervaardiger hy weet nie of hy kan aanhou belê in ’n land waar sulke ongekende geweld plaasvind nie.
“Ongelukkig het die voorvalle in Durban ons baie onseker oor die toekoms van ons onderneming in KwaZulu-Natal gemaak,” sê Toshimitsu Imai, bedryfshoof van Toyota Afrika.